HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het Saterdagoggend, 9 November, weer een van sy groot seders aan die dood afgestaan.
Richard ‘Predikant’ Roberts (72), kranige voormalige losskakel van die destydse Young Stars-rugbyklub wat ook vir SWD uitgedraf het, het sy stryd teen kanker verloor. Hy het aan huis gesterf met sy gesin en ander familielede by hom.
Roberts het veral bekendheid verwerf met sy spogvertoning teen die destydse Westelike Provinsie op Groenpunt waar hy so te sê die ondergang van die magtige WP-span eiehandig met sy flink breekslae en direkte aanvalstegniek behartig het.
Wat dié vertoning teen WP so merkwaardig maak, is dat die tuisspan van die grootste name, waaronder, Salie Fredericks, destydse SARU-kaptein, Cassiem Jabaar, seker een van Suid Afrika se beste skrumskakels, Matthew Napoleon en vele ander bekendes ingesluit het.
Hy laat sy vrou, Cynthia, een dogter, twee seuns en kleinkinders agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’