Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dorp het Saterdag-aand, 20 Augustus, 'n groot seder verloor met die dood van die bekende sakeman, Bertus Olivier.
Olivier, wat die vorige dag sy 73ste ver-jaarsdag gevier het, het vermoedelik aan 'n hartaanval gesterf.
Volgens sy vrou, Emsie, met wie hy 50 jaar getroud was, was hy die afgelope paar weke nie baie gesond nie en was hy ook 'n tyd gehospitaliseer. Hy was die afgelope tyd ook rolstoelgebonde.
Olivier was vanaf 'n jong ouderdom 'n aspirant entrepreneur en het hy oral in die groothandelbedryf waar hy by groot maatskappye gewerk het, sy merk gemaak voordat hy sy eie besigheid begin het.
Hy het vir menige mense in Barrydale, Slangrivier asook in Heidelberg werk verskaf waar hy die meeste van sy besighede, waaronder slaghuise, bedryf het.
As daar na die klompie inskrywings op sosiale media gekyk word, sal Olivier beslis gemis word. Hy was baie betrokke by verskeie organisasies aan wie hy ruim geskenk het.
Benewens sy vrou laat hy ook twee dogters, een seun en ses kleinkinders agter.
Die troosdiens en begrafnis vind op Vrydag 26 Augustus om 14:00 vanuit die NG kerk in Heidelberg plaas.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'