HESSEQUA NUUS - Die leerders, personeel en ouergemeenskap van Vondeling Primêr, net voor Witsand, kon nie hul blydskap verberg met die groot skenking wat die petroleummaatskappy, MOOV, aan hulle bewillig het nie.
Die maatskappy van Bredasdorp, onder leiding van hul streekbestuurder, Deon Maneveld, het ‘n groot kontantbedrag aan die skool geskenk wat die skool volgens hul prioriteite kan benut.
Zandra Davids, prinsipaal, sê die skenking het soos manna uit die hemel op hulle neergedaal en hulle kon die 86 leerders vanaf gr. R tot gr. 6 met die broodnodige skoolklere, skryfbehoeftes, sporttoerusting en skoolsakke voorsien.
Maneveld en 'n kollega het die skool op Woensdag 17 Julie besoek om amptelik die aankope te besigtig en aan die leerders te oorhandig. Benewens die skool- en sportdrag het die skool ook ‘n groot kombuiskas en baadjies vir die personeel aangeskaf.
Maneveld het die leerders aangemoedig om hard te leer en gefokus te bly op hul doelwitte. Hy het Davids en haar span ook bedank vir die wyse waarop hulle die kontantskenking aangewend het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’