GOURITSMOND NUUS - Inwoners van dié kusdorp is raadop met kragonderbrekings wat die dorp se ekonomie knou.
Org Nieuwoudt, sakeman en voorsitter van die Gourits-sambreelliggaam wat verskillende groepe verteenwoordig, meen kabeldiefstal wat twee, drie maal per maand plaasvind, gebrekkige onderhoudswerk en ure lange herstelwerk dra daartoe by. "Soos dit nou gaan, is dit 'n ramp," sê hy.
Verskeie ander inwoners kla ook oor verlies aan inkomste en die koste van toerusting wat onklaar raak en vervang moet word.
Joggie Jordaan, voorsitter van die Gourits- gemeenskapspolisiëringsforum sê die onderbrekings lei tot misdaad.
"As gevolg daarvan is die kamera by die ingang na die dorp buite werking. Die dooie straatligte maak dit makliker vir kriminele om hul operasies uit te voer," sê hy.
"Ons doen ons bes om ons kliënte van 'n ononderbroke elektrisiteitstoevoer te voorsien, maar uiterste toestande in die gebied het die netwerk ernstig geknou," het Eskom in reaksie op 'n navraag gesê.
"Twee veldbrande in Desember het toerusting beskadig wat tot netwerkfoute gelei het en noodoptrede vereis het. Boonop is die inwoners aan landswye beurtkrag onderwerp." Die elektrisiteitsvoorsiener het verskoning vir die ongerief gevra.
Hessequa-munisipaliteit het by navraag gesê 'n vergadering met Eskom is reeds versoek en sal eersdaags plaasvind. Die probleme sal dan bespreek word.
"Die munisipaliteit bly verbind tot dienslewering van hoë standaard en die nodige instandhouding aan die munisipale kant van die netwerk word deurlopend gedoen."
Volgens hulle het twee onbeplande onderbrekings - een van hulle en een van Eskom, asook een beplande onderbreking deur die munisipaliteit voorgekom.
Die onbeplande onderbrekings is veroorsaak deur onvoorspelbare oorsake, naamlik normale en abnormale foute, vandalisme, diefstal en die normale onderbrekings wat die stelsel beskerm of 'nuisance trips'.
Op 21 Januarie het die munisipale netwerk 'n fout op die 11kV mediumvolt-netwerk, wat agt ure geduur het, ondervind.
Op 23 Januarie het 'n beplande onderbreking van 20 minute plaasgevind sodat die toestand van die transformator-skakelaar, wat die vorige onderbreking veroorsaak het, te toets.
Eskom het op 24 Januarie 'n onbeplande onderbreking gehad wat deur die diefstal van Eskom-geleiers veroorsaak is en wat tot enkelfase in die MV-netwerk gelei het. Die onderbreking het ses ure geduur en die hele Gouritsmond-gebied is geraak.
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'