STILBAAI NUUS - ‘n Gewapende roof die afgelope Sondagaand, 13 Augustus by Rehoboth Mini Mark in Tinktinkiestraat in Melkhoutfontein, het tot hewige protesaksie in die gebied gelei.
Volgens die polisie het vier mans, gewapen met vuurwapens en messe, die minimark na 19:00 binnegegaan en die personeel en kliënte gedreig en aangeval.
Twee manlike personeellede is in die voorval beseer waarna die diewe met ‘n onbekende bedrag geld laat spaander het.
Volgens kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, is hulle ondersoek goed op dreef en is hulle vasbeslote om die skuldiges aan die pen te laat ry.
Na die roof het gemoedere hoog geloop en gemeenskapslede, wat glo siek en sat is vir misdaad, het opgeruk na die munisipaliteit se departement van noodbehuising.
Petrolbomme en klippe is gegooi en die oproer het Maandagoggend voortgeduur. Die pad is toe ook met brandende bande versper en die Openbare Orde-polisie van George het Maandag 'n wakende oog gehou. Lees meer in Donderdag se koerant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’