Video
SOETMELKSRIVIER NUUS EN VIDEO - Die menslike geraamte wat op Donderdag 31 Januarie gevind is, is na alle waarskynlikheid Dawid Oktober, ook bekend as Boetie Kaas van Dollo Square 4, Heidelberg wat op 22 Julie 2015 vermis geraak het.
Vier mans, Joël Pieterse, Frederick Pietersen, sy neef Francois Pietersen en Barnett Esau, wat indringerbome op die oewer van die Goukourivier gesaag het, het op die beendere afgekom.
Die identifikasie berus op die ontslapene se mediese geskiedenis en die klere wat hy aangehad het die dag toe hy vermis geraak het.
Anna September, die oorledene se suster, het Vrydag 23 Februarie bevestig dat hy in 2010 'n mediese prosedure ondergaan het waartydens 'n pen in sy regterknie aangebring is. Sy het ook die broek en baadjie wat saam met die beendere gevind is, uitgeken as die klere wat hy aangehad het toe hy vermis geraak het.
"Anna was baie aangedaan toe sy die klere identifiseer het," sê Jaco Pretorius van die forensiese patologiese dienste. "Sy het die foto van die klere teen haar vasgedruk terwyl die trane oor haar wange stroom."
Kyk 'n video hieronder.
Volgens Pretorius is die beendere deur dr. Christa Hattingh, senior forensiese patoloog in George ondersoek en bevestig as dié van 'n volwasse man. Daar is geen bewyse van trauma gevind nie.
"Sy het die pen in sy regterknie gevind. Volgens sy suster is dit aangebring nadat hy in 2010 as 'n voetganger deur 'n motoris raakgery is. As gevolg van die besering het hy mank geloop."
In 2015 het hy uit Riversdal-hospitaal verdwyn waar hy opgeneem is nadat hy van pyn in sy skouer en arm gekla het.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'