Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Wat is die grootste probleme in Hessequa, en hoe hoop gemeenskapsleiers die politici sal hierdie probleme na die verkiesing aanspreek?
Volgens sakeman Johan Crous is toenemende onveiligheid in die dorp en landelike gebiede een van die grootste probleme.
"Die veiligheid van dorps- en plaasbewoners is in die gedrang. Misdaad is 'n simptoom van sosiaal-maatskaplike verval weens armoede wat deur werkloosheid veroorsaak word."
In die dorp word die probleem gekenmerk deur die toename in misdaad deur straatkinders wat besighede en kwesbare individue teiken. "Die straatkinders gaan nie skool nie, maar loop vir kwaadgeld in die strate rond. Weens die wetteloosheid is buitelandse besoekers te bang om die streek te besoek, wat weer toerisme knou."
In landelike gebiede styg die voorkoms van vee- en koperkabeldiefstal. "Hierdie misdaad, saam met die droogte en onsekerheid oor grondkwessies, is sleg vir ons boere, dorpe en streek."
Die toestroming van mense van elders wat hoop om hier werk te kry, vererger die probleme. "Hier is net vir 'n beperkte aantal mense werk, want hier is nie industrieë wat werk skep nie."
Beth Paine, sakevrou en voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê drankmisbruik is die wortel van die kwaad. "Die wanaanwending van staatstoelaes (Sassa-geld) vererger alkoholmisbruik, wat daartoe lei dat kinders verwaarloos word. Daar is nie toesig by die huis nie, want die ouers lê dronk. Dit lei dikwels tot ongewenste tienerswangerskappe."
Soos Paine, glo Crous die polisie is nie by magte om teen jeugmisdaad op te tree nie. "Die polisie se mag as wetstoepassers word deur wetgewing ondermyn," sê hy. Crous hoop dat wetgewing na die verkiesing aangepas sal word om vir die polisie hul mag terug te gee om teen wetsoortreders op te tree.
"'n Sterk polisiemag wat werklik wet en orde handhaaf sal groter veiligheid vir alle inwoners verseker. Dit sal bydra tot meer beleggings in toerisme en industrieë, wat kan lei tot werkskepping." Hy hoop ook dat arbeidswetgewing sinvol aangepas sal word om potensiële werkgewers tegemoet te kom.
Paine se wenslys vir verandering na die verkiesing
- die skep van 'n jeugsentrum waar jong kinders besig gehou en tieners beroepsleiding en opleiding in vaardighede kan ontvang;
- dat onwettige drankhandelaars wat drank goedkoop verkwansel, vasgevat sal word;
- dat nog kameras wat registrasienommers identifiseer by al die ingange na die dorp aangebring sal word; en
- dat hande gevat sal word met al die rolspelers, insluitend die GPF, wat gretig is om 'n verandering in die hele gemeenskap te weeg te bring.
Kyk 'n video hieronder:
Johan Crous, gemeenskapsleier.
Die kamera by een ingang na die dorp kan nommerplate oombliklik identifiseer.
Lees 'n vorige artikel hier: Gemeenskapsleiers praat oor uitdagings, oplossings
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'