HESSEQUA NUUS - Die eerste van die munisipaliteit se 2020/2021 Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP)-vergaderings is Maandag 7 Oktober in Riversdal en Stilbaai gehou.
Tydens die vergaderings is die proses verduidelik, terugvoer oor vorige insette en projekte wat daaruit voortgevloei het gegee en nuwe insette uit die gehoor ontvang.
Stephan Block het die Riversdal-vergadering wat deur verskeie raadslede en munisipale beamptes bygewoon is, gelei. Die vergadering in die Thusongsentrum is deur sowat 40 inwoners bygewoon.
"Die GOP weerspieël die raad se visie en doelwitte vir die volgende drie jaar, maar dit word elke jaar hersien en aangepas. Gebeure soos die voortslepende droogte en die verwoestende brande het daartoe gelei dat noodsaaklike aanpassings gemaak moes word. Risiko's soos watervoorsiening, droogtes en ander faktore wat vooruitgang belemmer moet voorkeur kry."
"Daar is R11 miljoen vir die opgradering van paaie opsy gesit," het Rhuschan Manho gesê. "Die insette van wykskomitees bepaal watter paaie aandag moet geniet. Deur paaie te plavei word noodsaaklike werk geskep, al is dit 'n baie duurder opsie."
Riversdal se inwoners het die volgende knelpunte identifiseer:
- Behuisingsnood, wat die voorkoms van tuberkulose verhoog;
- Watervoorsiening in gebiede waar inwoners bereid is om dit by verpreiders te koop;
- Huise wat oorstroom en modderige sypaadjies wanneer dit reën;
- Die verskaffing van binnetoilette, veral waar enkellopende vroue en bejaardes woon;
- Skoonmaak van slote en ontbossing van buurtes waar leerders 'deur die bosse' skool toe moet loop;
- Slaggate in paaie;
- Rommelverwydering.
In Stilbaai het Louw de Villiers (koördineerder GOP) die raad se prioriteite in terme van strategiese risiko's beklemtoon: Die volhoubaarheid en bekostigbaarheid van basiese dienslewering, uitbreiding van waterbronne, desentralisasie van die brandweerdiens, herstel en onderhoud van paaie, bestuur en rehabilitasie van stortingsterreine en effektiewe rekenaarbedryfstelsels.
Hoewel insette vanaf die publiek oor enige aspek van kapitale projekte verwelkom word, sal die bogenoemde risiko's noodwendig eerste aandag geniet. Die kapitale bestedingsprofiel sluit tans water (20%), elektrisiteit (21%), instandhouding (20%) en paaie (13%) in.
Die sperdatum vir voorstelle en voorleggings is 25 Oktober. Dit kan aan wyksraadslede oorhandig word of fisies by die munisipaliteit ingegee word.
Die adres vir elektroniese indiening is info@hessequa.gov.za
Hessequa municipality held the first two of their Integrated Development Plan meetings on Monday 7 October in Stilbaai and Riversdale.
The aim of these meetings is to provide feedback to all communities regarding progress in the financial year which is drawing to a close. Residents are invited to submit suggestions for the next capital budget by no later than 25 October.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'