RIVERSDAL NUUS - Inwoners en besoekers aan dié dorp sal binnekort ‘n ryk erfenis op ‘n wandelroete kan ontdek.
Die kunstenaar Marilise Lombard, beplan om met die samewerking die Hessequa-munisipaliteit se toerismeburo, ‘n erfenis-wandelroete bekend te stel wat ook die talent van Riversdal se kunstenaars sal ontgin en belig.
“Die doel van die erfeniskuns-wandelroete is deels om inwoners en besoekers bewus te maak van ‘n sonderlinge geskiedkundige verlede.
"Dit is egter ook ‘n doelgerigte projek om die streek se kunstenaars bekend te stel en te bemark. Daar is uiteraard suksesvolle gasvryheidsbedrywe en is koffie- en tert-kuierplekkies op die roete ingesluit. Van dié bedrywe is bekend om hul eiesoortige spyskaarte en eksklusiewe smulgeregte.”
Dié roete fokus op die historiese Langstraat en omliggende besienswaardighede. Tussen die bakens is die bekende Julius Gordon African Sentrum en die gewilde Ou Tronk.
Langstraat onthul erfenis, kuns en kultuur. Onderweg is daar talle historiese geboue en huise met pragtuine.
‘n Aantal van Riversdal se kunstenaars woon op dié roete. Wandelaars sal die geleentheid kry om by die ateljees in te loer, die kunstenaars te ontmoet en om kuns te bekyk.
Die roete loop van die sakekern in Langstraat, op boontoe en kronkel verby die draai van Langenhovenstraat tot in Kerkstraat en verder. Dit eindig skuins oorkant die dorpsplein; die ysterspoorpodium van die Makadas, die streek se bekendste stoomlokomotief.
Marilise sê die kunstenaars is kreatief en skep dikwels aanverwante, ondersteunde kunsprodukte met ‘n kommersiële doelwit.
“Kunstenaars moet vir hul talent beloon word om volhoubaar te wees. Maar, as jy net wil kom kyk, is jy welkom. Kuns koester en verryk die siel.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’