HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit het 'n skoon ouditverslag vir die 2023/24 finansiële jaar behaal.
Dis die 11de agtereenvolgende jaar wat dié munisipaliteit met hierdie besonderse prestasie kan spog.
’n Hoogtepunt in vanjaar se oudit is dat die munisipaliteit sy bevindinge met 35% verminder het vanaf 17 in die vorige jaar tot slegs 11 vanjaar.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, het in 'n verklaring gesê die skoon oudit beklemtoon die belangrikheid van goeie samewerking tussen die politieke en administratiewe komponente van die raad.
"Hierdie skoon oudit is 'n bewys van sterk finansiële bestuur, gesonde interne beheermaatreëls, ywerige voorsieningskanaalbestuurspraktyke en geloofwaardige begrotingsprosesse binne ons munisipaliteit.
"Dit demonstreer verder dat die munisipaliteit fondse tot sy beskikking doeltreffend aanwend om die teikens te bereik wat in sy Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) uiteengesit word, wat uiteindelik lei tot verbeterde dienslewering vir die gemeenskappe wat ons bedien.
"Ek bedank Hessequa-munisipaliteit se raad, die munisipale bestuurder en sy span van direkteure, asook elke munisipale amptenaar vir hul harde werk en toewyding wat verseker dat ons jaar na jaar hierdie uitsonderlike prestasie bereik.
"Hierdie skoon oudit is buitengewoon spesiaal aangesien die munisipaliteit 'n verandering in bestuur binne die finansiële departement ervaar het en is ons trots op die span wat hul sterk finansiële bestuur gehandhaaf het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’