Gallery Update
HERBERTSDALE NUUS - Martin en Jenny Jeken van Dwarsrivier Country Getaway buite Herbertsdale was die eerste boere om byna 25 jaar gelede makadamianeute in die Suid-Kaap te begin kweek.
Vandag is dit baie meer algemeen namate boere wat 'n alternatiewe inkomste soek, ook daarmee begin boer.
Die Jeken-egpaar het uit Kaapstad hierheen verhuis en was so begeesterd deur 'n ou makadamiaboom op die plaas wat tot 40 kg neute gelewer het, dat hulle besluit het om self 'n boord aan te lê. "Dit was 'n leerproses, want ons het niks van boerdery geweet nie, wat nog te sê makadamias," vertel Martin. Inligting oor die onderwerp was aanvanklik ook nie juis beskikbaar nie en hulle het maar op die harde manier uitgevind wat die beste werk. Deesdae het hulle sowat 2 500 makadamiabome van verskillende ouderdomme.
Die eerste boord is in die diep, ryk grond langs die rivier geplant, maar teen die heuwels moes die grond met beesmis, die buitenste skil en vrugmoes van die neute, asook kalk verryk word. Die boorde is onder drupbesproeiing waarmee ook oplosbare voedingstowwe toegedien word. Die bome word met 'n trekker en spuitkar teen skimmel bespuit.
Winter is pluktyd en dan word elke vrug wat uit die trossie geurige pienk blommetjies ontwikkel het, met die hand gepluk. Die neute wat hoog sit, word met 'n haakstok afgeruk. Die vrugte word in 'n krat agter op 'n vierwielmotorfiets na die skuur geneem.
In die skuur is verskillende masjiene wat doelontwerp is vir die prosesse wat nodig is om die geplukte vrug tot by die eetbare neut te neem - 'n proses wat tot agt weke duur. Hoewel die prosesse arbeidsintensief is, kom die Jekens met so min as moontlik helpers klaar.
"Elke neut gaan 11 keer deur ons hande," vertel Jenny. Eers word die buitenste skil en vrugmoes verwyder en buite op 'n hoop gegooi sodat dit vir bemesting gebruik kan word. Dan word die neut, nog binne-in die harde dop, oornag in 'n waterbad geweek. Die neute wat dryf word weggegooi, die res word agt weke lank in 'n spesiale droër gedroog. Om die droogproses te versnel, word 'n broeimasjien vir volstruiseiers waarvan die temperatuur haarfyn gestel kan word, gebruik.
Tydens die drogingsproses absorbeer die neut die olie in die dop. Wanneer 'n mens die dop skud en die los neut binne-in hoor, word dit deur die kraakmasjien gesit om die doppe te verwyder. Dan word die neute met die hand sorteer.
Daarna is dit terug na die waterbad. Neute wat dryf het 'n 75% olie-inhoud en word as graad A geklassifiseer. Neute wat afsak, het 60% olie en is 'n B-graad-neut. Die neute word dan nog twee dae lank in die droër geplaas voordat dit gereed is om in 'n lekkerny verwerk te word - hetsy gerooster en gesout, of met sjokolade bedek en verpak vir uitvoer.
Links bo is die bruin dop in die ryp vrug, en regs die groen vrug met die wit vrugmoes en bruin neutedop in die middel. Die eetbare gelerige neut is nog onsigbaar in die middel.
Die neute word gerooster en gesout en as 'n heerlike southappie bedien. Foto's: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Boordevol neutlekkerte
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Hessequa nuus'