TUINROETE NUUS - EDENfm se Powertrade We Care Soupdrive-gemeenskapinisiatief het onlangs 'n groot hupstoot gekry met die toevoeging van 'n splinternuwe voertuig via Hyundai Oudtshoorn om gemeenskappe in die Tuinroete doeltreffender te bereik.
Morné Pietersen, stasiebestuurder van EDENfm, sê dat Hyundai jaarliks hierdie inisiatief ondersteun en vanjaar dit goed gedink om ook die voertuig beskikbaar te stel.
"Hierdie voertuig het weliswaar 'n groot verskil gemaak om die logistieke reëlings van die grootse uitreiking te vergemaklik. EDENfm en Powertrade bereik vir die afgelope 10 jaar jaarliks meer as 15 dorpe vanaf Slangrivier in die Hessekwa tot in Beaufort-Wes in die Groot-Karoo met 'n warm koppie sop en 'n toebroodjie gedurende die snerpende Suid-Kaapse Winter.
"Tussen 8 Mei en 14 Junie het die radio se ontbytaanbieder, Sebastian Coledridge, tesame met die middagete-aanbieder Grandt 'Rasper' Damons en Politiek en Polemiek-aanbieder Darryl Damons, met die hulp van "ma Sarah Jonck" en die radio se Carpe Diem-gebedsprogram omroepers sowat 21 000 koppies sop aan van die armste gemeenskappe in die streek uitgedeel," sê Pietersen.
Volgens Pietersen is dit elke keer 'n openbaring om te sien in watter omstandighede mense in die streek bly.
"Dit is verblydend om te sien hoe hulle die klein daad van welwillendheid van korporatiewe borge soos die Powertrade Groep en Hyundai Oudtshoorn waardeer, deur vir een dag 'n verskil met 'n koppie sop in hulle lewens te kom maak.
"Die radiostasie kry tydens die Soupdrive ook die geleentheid om sy luisteraars te ontmoet en warmte en liefde te versprei.
"Die uitreiking is hierdie jaar opgedra aan een van die radiostasie se grootste ondersteuners, Ma Liney Amsterdam van Oudtshoorn wat een van die sopmakers tydens die jaarlikse uitreiking was. Amsterdam het vroeër die maand na 'n kort siekbed gesterf."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’