HEIDELBERG NUUS - Dié dorp is weereens diep geskok na 'n jongman vir die tweede keer binne die bestek van 17 maande nog 'n lewe van 'n persoon geneem het.
Noodlottig gesteek
Dié keer is die lewe van Pieter John Oktober (39), in die vroeër oggendure van Saterdag 16 Mei, tragies van hom ontneem toe hy na bewering deur die beskuldigde, Leandré Hendricks (22), met 'n skerp voorwerp in sy motor aangerand en noodlottig gesteek is.
Dit het gebeur terwyl hy en twee vriendinne in sy motor net na 06:00 op die ou tennis-baan in Joe Slovo Park gesit en gesels het.
Volgens inligting het hy na bewering uit sy motor huis toe gevlug, maar het enkele meters, (±40 m) van sy ouerhuis in Joe Slovo Park, Heidelberg, inmekaargesak.
Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Verskeie aanklagte op beskuldigde
Hendricks word ook daarvan beskuldig dat hy die middeljarige inwoner, George Hill (51) van Joe Slovo Park op ou Kersaand/nag 2024 met 'n mes aangerand het.
Hill het later, vroeg Kersoggend enkele meters van sy woning aan sy wonde beswyk.
Hendricks is verlede jaar op borgtog vrygelaat en verskyn weer in Oktober 2026 in die streekhof in Riversdal.
Daar is ook glo na bewering laat verlede jaar 'n klag van poging tot moord teen Hendricks aanhangig gemaak, nadat hy glo 'n 43-jarige man in sy huis in Adamssingel, Joe Slovo Park, aangerand het met die doel om ernstig te beseer, en skade aan die huis aangerig het.
Intussen het Hendricks Maandagoggend, 18 Mei, vlugtig in die plaaslike landdroshof op aanklag van die moord op Oktober verskyn.
Oktober se ma, Katie, sy twee susters, sy broer asook sy dogter, was teenwoordig tydens sy vlugtige verskyning in die hof.
Ontevrede inwoners
Nagenoeg 50 ontevrede inwoners, wat familie, vriende en bure van Oktober, asook die weduwee en dogter van wyle George Hill, het buite die hof protes aangeteken teen borgtog met plakkate soos, No bail, we want justice for Pieter, No bail for killers, asook Geregtigheid vir Pieter.
Die saak is tot Dinsdag 21 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.
Intussen word Oktober wyd op sosiale media as 'n baie rustige, ordentlike jongman, wat baie lief is vir sy familie en vriende asook versot was op sy musiek en op sy motor.
Sy ma het hom as haar staatmakerkind beskryf op wie sy te alle tye kon staatmaak. "Wie gaan nou na my motor omsien as daar enige meganiesefoute is, het sy deernisvol gevra."
Benewens sy ma, laat hy ook 'n dogter, Kayleen Ruiters, een broer, Willem en twee susters, Marilyn en Cathleen, agter.
Teen druktyd was daar nog nie finale begrafnisreëlings nie.
Die verwagting is dat dit komende Saterdag 23 Mei sal plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’