RIVERSDAL NUUS - Dié dorp se sakekern lyk die afgelope paar dae soos ‘n oorlogsone.
Word daar skuilings in afwagting op vanjaar se verkiesing gegrawe, word die oorhoofse kragspanningsdrade tussen pale ondergronds gesink of verrinneweer ‘n klomp monstermolle Riversdal se strate?
Dit is van die vrae wat inwoners die afgelope tyd gevra het.
Die vorige aand het hulle nog op netjiese pavleisel-steentjies en ‘n stewige teerblad huiswaarts gekeer, maar die volgende oggend moes hulle steier teen versperrings en grondhope wat toegang beperk tot die geboue waar hulle sake bedryf, hul inkomste verdien of hul inkopies doen.
Die hele gebied se systrate uit Kerkstraat rondom die moedergemeentekerk is met veiligheidsbaniere afgesper. Die sypaadjies is ontoeganklik. Veral ondernemings in Dickson - en Barrystraat word beïnvloed.
Vra jy die werkers - wat daar pik, graaf en sweet - wat óp- of uitgegraaf word en wat weer toegegooi moet word, hoor jy: “Don’t know. It’s only 57cm deep.” en “Maybe electricity.”
Genugtig, wat gaan aan?
Die Hessequa-munisipaliteit kon teen spertyd nog nie kommentaar lewer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’