STILBAAI NUUS - Die Gemeenskapsaal in Melkhoutfontein was pragtig versier en sowat veertig vroue het fyn opgedos die afsluiting van die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld Dinsdagaand 10 Desember bygewoon.
Die dames is eers getrakteer met pragtige sang deur Kaylean Joseph en Jenywia Kwezi waarna drie leerders van Albertinia Hoërskool se drama afdeling 'n skrikwekkende toneel van gesinsgeweld opgevoer het. Hillandrea Jansen, Adriano Wewers en Whiltaigon May het die gehoor stom gehad met hulle oorspronklike toneelspel.
Sersant Chrissy Lewaks van die Stilbaai polisie het met die dames gesels oor die vreeslike goed wat daar buite aangaan en mense gemaan om nie apaties te staan en weg te kyk as dit rondom jou gebeur nie.
Doktor Pretorius, van die Hosanna Bediening en ook eienaar van Radio Fynbos, het 'n kragtige boodskap van bemoediging gehad vir die dames teenwoordig en nadat sy vir hulle 'n unieke nagmaal bedien het, het sy hulle aangemoedig om uit te gaan en al die vroue van Melkhoutfontein te bemagtig om op te staan as hulle slagoffers is.
Sersant Chrissy Lewaks is beskikbaar by 079 800 8419 as jy die slagoffer is van gesinsgeweld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’