RIVERSDAL NUUS - Dié Saterdag verander die plein in die dorp weer in ‘n snuffelmark.
Dit sal die derde keer wees sedert dié trotse marktradisie in September herbekendgestel is.
Sewentien uiteenlopende stalletjies word verwag. Daar is ‘n verskeidenheid produkte beskikbaar: van handgemaak, tuisgemaak en alles wat mooi en lekker is tussenin.
Daar is vet- en roosterkoek, soetkoek en souttert, biltong en droëwors, speserye en konfyt, klerasie, juwele, parfuum en kuns.
“Ons streef steeds na ‘n groter verskeidenheid en meer stalletjies. Die belangstelling het egter reeds toegeneem en al die stalletjiehouers is tevrede; almal geniet ‘n stukkie van die treinspoor na welslae.
Die doel is steeds om ‘n toonvenster vir entrepreneurskap te bied. Gehalte is belangriker as hoeveelheid.
Nuwe vriendskappe word gesmee en mense deel vars idees met mekaar. Ons lok wel nog nie ‘n reuse-skare nie, maar ons hou aan om te vernuwe en dié gemeenskapprojek in ‘n volhoubare mark te ontwikkel,” sê Lenichia Willemse, die organiseerder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’