RIVERSDAL NUUS - Daar's skielik 'n bruisende geesdrif in die dorp met die aanbreek van Hoër Landbouskool Oakdale se jaarlikse interskole-kragmeting teen Hoër Landbouskool Boland wat vandag afskop.
Die tradisieryke en emosioneel belaaide geleentheid val saam met die jaarlikse Akkerfees en Oakdale se 95ste verjaarsdagvieringe.
Die Akkerfees het vroeër vandeesweek met musiekkonserte begin waaraan bekende kunstenaars deelgeneem het. Dit het ook die gewilde oudskoliere-konsert ingesluit.
Dié fees word Saterdag afgesluit met die Oakdale-plaasmark by die skool waar allerlei lekkernye, soos vars vrugte en groente, talle vleisprodukte en hope ander eetgoed te koop aangebied word. Maar natuurlik is dit die interskole-kragmeting teen Boland wat die groot trekpleister is.
Hoogtepunte Vrydag is die gholfwedstryd by die Riversdal-gholfklub wat reeds om 09:00 begin. Dit word opgevolg deur die bergfietsryers wat mekaar van 14:00 af op die pragtige Oakdale-resiesbaan gaan aandurf.
Die netbalmamma's speel om 15:00 teen mekaar en om 16:30 is dit die rugbywedstryd tussen die skole se oudskoliere op De Eike wat die mense in hul hordes gaan trek.
Saterdag se program is rugby en nogmaals rugby met die o. 16A-spanne wat om 08:30 afskop. En om 13:00 breek die tyd aan wanneer die Bulle hul eweknieë van Boland wil wys hoe om die ovaalbal te hanteer.
Nie gedink Riversdal kan uit sy nate bars nie. Kom kyk gerus en sien vir jouself dat daar wel nog lewe in die stil dorpie is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’