Update
RIVERSDAL NUUS - Nalatigheid is in baie gevalle die groot oorsaak dat besittings gesteel word.
Adjudant-offisier Hans Busch, waarnemende polisiekommunikasiebeampte van Riversdal-polisie sê dat mense diewe behoorlik uitnooi om hul eiendom of besittings te steel.
"Moenie jou huis verlaat sonder om die deure te sluit en die vensters toe te maak, veral as daar nie diefwering voor is nie. 'n Selfoon of ander waardevolle items wat op jou motor se sitplek lê, kan baie aanloklik vir 'n dief wees. Indien jy dit nie aan jou persoon kan saamdra nie, bêre dit buite sig en sluit jou motor wanneer jy by jou bestemming is," raai hy aan.
Hy waarsku ook veral senior burgers wat 'n sagte teiken is by kitsbanke. "Misdadigers hang daar rond en sien wanneer 'n persoon sukkel om 'n transaksie te doen. Hulle is vinnig om hul diens aan te bied om te help, maar dis wanneer die slagoffer se bankrekening leeggemaak word."
Hy stel voor dat ouer mense liefs iemand moet saamneem wanneer hulle geld by 'n kitsbank wil gaan trek. "Kyk rond vir verdagte persone en indien dit lyk of iemand doelloos daar rondstaan, maak spore. Kom eerder later terug."
Diefstal wat voorkom kon word, veroorsaak 'n groot aantal onnodige sake wat deur die polisie ondersoek moet word en veroorsaak dat ernstiger sake agterweë bly of verwaarloos word.
"Polisielede is oorwerk omdat Covid-19 ook sy tol hier eis. Die afgelope tyd is hier boonop 'n groot toestroming van ander provinsies, wat veroorsaak dat misdaad soos diefstal uit motors, huise, huisbraak, aanrandings, gesinsgeweld en drankmisbruik toeneem. Ons vra die gemeenskap se samewerking en ook dat hulle oplet wat om hulle aangaan." Die polisie kry deesdae ook heelwat klagtes van inwoners oor herstelwerk aan selfone en ander herstelwerk waarmee hulle nie tevrede is nie. "Dit is 'n siviele aangeleentheid en kan hulle nie 'n saak by die polisiestasie hieroor maak nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'