HESSEQUA NUUS - Dit gons behoorlik oor die bonussse en salarisse van top munisipale direkteure en die munisipale bestuurder, Johan Jacobs.
Suid-Kaap Forum het verskeie navrae én klagtes ontvang oor die Hessequa-munisipaliteit se groot bonusse en salarisse, veral onder die huidige swak ekonomiese omstandighede as gevolg van die Covid-19-pandemie.
"Munisipale heffings en tariewe, daaglikse oorlewingskostes en ook brandstof word al duurder, maar baie van ons het glad nie salarisverhogings gekry nie en kan nie meer byhou om gate toe te stop nie.
"Dis juis die mense wat nie vir deesnistoelae kwalifiseer nie wat die swaarste kry," is van die klagtes wat meeste geopper is.
Die munisipaliteit se woordvoerder, Didi Budricks het Dinsdag bevestig dat na publisering van die munisipale jaarverslag en state, die 2019/2020 bonusse uitbetaal sal word.
Jacobs se bonus is R188 842, terwyl die korporatiewe, finansiële, ontwikkelingsbeplanning en gemeenskapsdienste dirkteure elk R165 591 sal ontvang. Die direkteur tegniese dienste is geoormerk om R81 136 te ontvang aangesien hy nog nie 'n volle jaar die pos beklee nie.
In die ongepubliseerde state is die munisipale bestuurder se totale salarispakket R1 601 086. Sy direkteure se totale salarispakkette is R1 442 569, behalwe vir die direkteur tegniese dienste wat nie 'n volle jaar in die pos is nie en R873 075 verdien.
Budricks sê amptenare kan hulle salarispakket struktureer volgens hulle eie behoeftes. "Indien 'n amptenaar verkies om 'n prestasiebonus en 'n 13de tjek te ontvang, word sy maandelikse salaris dienooreenkomstig verminder.
In terme van die bepalings van die Stelselswet (32 van 2000) bestaan 'n stelsel van prestasiebestuur vir alle munisipaliteite in die land. 'n Munisipaliteit kan besluit om die vergoeding aan 'n bestuurder op een van twee wyses te bepaal, naamlik (1) 'n alles-insluitende pakket wat geen aparte prestasiebonus bevat nie; of (2) 'n alles-insluitende pakket wat 'n aparte prestasiebonus bevat tot 'n maksimum van 14%.
Hessequa-munisipaliteit het die afgelope 20 jaar die opsie uitgeoefen om prestasiebonusse te betaal.
"Alle bestuurders van Hessequa se salarispakkette is aanvanklik deur 'n onafhanklike diensverskaffer geëvalueer en die riglynsalarisse is aan die raad voorgelê, gebaseer op die uitsluiting van prestasiebonus."
Budricks sê die item het voor die volle raad in 'n ope vergadering gedien.
"Die prestasie-evalueringsproses is presies dieselfde as die afgelope 20 jaar en is bygewoon deur 'n verteenwoordiger van die Hessequa-ouditkomitee, 'n munisipale bestuurder en burgemeester van 'n ander munisipaliteit, portefeuljevoorsitters, asook 'n lid van die publiek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'