RIVERSDAL NUUS - Die strafregsisteem in Suid-Afrika hét reeds verval. Dis nie 'n geval van dis besig om in duie te stort nie; dit het só versleg dat die kanse op enige suksevolle vervolging, veral van hoëprofielsake, uiters skraal is.
Só het adv. Gerrie Nel van AfriForum se private vervolgingseenheid in Riversdal by 'n sakeontbyt, gereël deur Solidariteit se Helpende Hand-tak, gesels oor private vervolging in Suid-Afrika.
Nel, wat die bynaam "bulhond" gekry het tydens die opspraakwekkende Oscar Pistorius-saak met sy knaende en bykans uitmergelende ondervraging, het aan die handjievol aanwesiges gesê in die meeste dele van die land sal die gewone man op straat dit uiters moeilik vind om 'n saak by sy plaaslike polisiekantoor oop te maak met die hoop dat dit sal lei tot vervolging.
Hy het die name van talle bekende politici genoem wat by grootskeepse korrupsie bertrek word, maar steeds op vrye voet rondloop of selfs nog belangrike bestuursposte beklee.
"Dis die naakte waarheid," het Nel gesê. "Dit wil voorkom of daar geen aanspreeklikheid is vir enige wandade nie en hoe belangriker jou posisie hoe skraler is die kanse dat jy vervolg gaan word. Daar is steeds selektiewe vervolging.
Hy het vertel hy het in 2017 as staatsaanklaer bedank het om by AfriForum se private vervolgingseenheid aan te sluit. Sedertdien het sy span aangegroei tot 10 lede en het hulle al heelparty hoëprofielsake met sukses aangepak.
"Ek het die pos by AfriForum aanvaar omdat ek bekommerd was oor die persepsie dat die NVG 'n tendens van selektiewe vervolging ontwikkel het en dat nie almal kennelik gelyk voor die reg is nie. Ek glo in die oppergesag van die reg en met ons private vervolgingseenheid bied ons die geleentheid om te verseker enigeen uit die samelewing, ongeag van posisie, word as gelyk voor die reg behandel. Ek en Afriforum is nou in 'n posisie om korrupte mense wat nie deur die NVG vervolg word nie, privaat te vervolg."
Nel het ook genoem Suid-Afrikaanse wetgewing maak voorsiening vir private vervolging met sake waar die NVG besluit om nie iemand te vervolg wat van 'n misdryf verdink word nie.
Hy het gesê private vervolging is besig om momentum op te tel. "Ek glo dat, soos met private skole en hospitale, sal private vervolging in gewildheid toeneem.
Hy het afgesluit en gesê onder die regering van nasionale eenheid (RNE) glo hy die kanse is beter om die NVG weer aan die werk te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’