RIVERSDAL NUUS - 'n Engel met 'n hart van goud en 'n oop hand so wyd soos die Atlantiese oseaan, het pas 'n droom bewaarheid toe sy 'n sopkombuis in Kwanokuthula oopgemaak het.
Rebecca Johnson du Preez beplan al 'n geruime tyd aan dié sopkombuis, maar 'n gebrek aan finansies en die nodige goedkeuring om dit te bedryf, het haar planne in die wiele gery.
Maar danksy ingryping deur die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en Kindersorg Riversdal kon sy haar lank gekoesterde droom bewaarheid toe Becca's Soup Kitchen op Dinsdag 28 Maart sy deure in Kwanokuthula vir behoeftige inwoners kon oopmaak.
Die heerlike geure van kerriekos het in haar huis gehang terwyl talle kinders en volwassenes buite saamgedrom het om in die kosvreugde te deel. Sy beplan om drie keer 'n week, Maandae, Woensdae en Vrydae, vir tussen 80 en 100 mense 'n bord heilsame kos te gee.
Rebecca vertel dat haar planne 'n groot hupstoot gekry het toe Heidi Cronjé, 'n omgewings- en gesondheidspraktisyn by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se gesondheidsdepartement in hul Riversdal-kantoor, die inspeksie by haar huis kom doen het om te kyk of dit aan alle gesondheidsvereistes voldoen.
Nadat sy goedkeuring gekry het en ook die nodige sertifikaat uitgereik is, het haar planne momentum opgetel en kon Kindersorg Riversdal planne in plek stel om haar finansieel te help.
Rolspelers, mentors en helpers Dinsdagoggend by die opening van Becca's Soup Kitchen. Van links: Claradene Blaauw (helper), Angelo Samboer (helper), Lenichia Willemse (Hessequa-munisipaliteit), Ashleen Prins (Kindersorg Riversdal), Suzanne Olivier (Hessequa-munisipaliteit) en Heidi Cronjé (omgewings- en gesondheidspraktisyn by Tuinroete-distriksmunisipaliteit).
Danksy hul bydrae kan sy nou voorraad aankoop om die maaltye in haar huis voor te berei.
Rebecca het aan Suid-Kaap Forum gesê die nood is groot en in haar onmiddellike omgewing is daar baie mense wat daagliks sonder kos moet klaarkom.
"Becca's Soup Kitchen is maar 'n klein begin om in dié groot nood te voorsien. Ek wens ons kan meer doen, maar ek en my span helpers moet dit wat ek in my hand het, so ver as moontlik rek sodat ons soveel mense as moontlik se honger kan stil."
Sy moet ook van haar eie geld gebruik om voorraad aan te koop en sy sê hulle kort dringend groot potte om die kos in voor te berei op die tweeplaatgasstofie in haar huis.
"Indien daar mense in Riversdal is wat ou potte het wat hulle nie meer gebruik nie, kan hulle my gerus kontak. Ek sal dit by hulle kom afhaal. Ons moet tans verskeie klein potte gebruik om vir die klomp mense kos voor te berei en groot potte sal ons taak aansienlik vergemaklik. Ons kort natuurlik altyd 'n gasbottel vol gas.
"Mense wat ook kos, soos groente, wil skenk sal baie help om groot gate toe te stop."
Rebecca kan by 063 765 0191 gekontak word.
Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’