HESSQUA NUUS - Die skraal man met die intense oë waarin sy passie vir mense en diens duidelik brand, is vir talle inwoners van Hessequa 'n bekende gesig.
Meeste ken hom as uitvoerende burgemeester Grant Riddles se regterhand en iemand wat gereeld sy naam moet verduidelik: "Dink aan sooibrand, dan onthou jy die Rennies."
Sy naam word egter eintlik Rénne gespel en die vuur wat hom aanspoor, is met sagtheid en liefde getemper.
Rénne Davids het diep wortels in die Hessequa-streek. Hy is in Wynberg gebore, maar het laerskool voltooi in Melkhoutfontein. Later matrikuleer hy aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool op Riversdal.
Na skool het hy in die sekuriteitsbedryf gaan werk, maar toe sy pa wat 'n onderwyser was, siek word, het hy teruggekom huis toe.
Hy vertel sy betrokkenheid in die politiek het deur Riddles gebeur. "Toe Grant in 2015 die politiek betree, het hy my gevra om hom te help omdat ek die plaaslike opset ken. Na ek oor sy oogmerke vir die gemeenskap gedink het, het ek my gewig by hom ingegooi en sy veldtog behartig."
Sy betrokkenheid in die gemeenskap strek veel dieper as net die politiek. Dis vir hom kosbaar om so na aan mense te kan leef. "Hulle stop my enige plek en maak hul harte oop omdat ek so wyd bekend is.
"So kan ek 'n vinger op die pols hou en ons kan probleme oplos voor dit handuit ruk."
Wanneer hy nie dadelik raad het nie, nader hy eerste die betrokke raadslid en gee ook gereelde terugvoering. "Dit verseker dat daardie persoon volgende keer weer die vrymoe-digheid sal hê om te praat, want hulle sien daar word iets gedoen."
Davids is ook voorsitter van Melkhout-fontein Primêre Skool se beheerliggaam en dien op Badisa se bestuur. Hy is die afgelope 14 jaar met Sharon, 'n nooi van Melkhoutfontein getroud en die egpaar het een seun.
In antwoord op die vraag oor sy vrye tyd, lag hy kopskuddend. " Daar is nie veel sulke tyd nie, maar ek het 'n baie wye musieksmaak en geniet enigiets van gospel tot Robbie Wessels."
As hy vir 'n jonger weergawe van homself raad kon gee, reken hy dit sal wees om altyd goed te doen aan ander sonder om beloning terug te verwag.
"Pay it forward - geld is nie die belangrikste ding in die lewe nie."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'