STILBAAI NUUS - Dis nie aldag dat 'n baba wat 'n gewigtige 5,2kg by geboorte weeg, gebore word nie.
'n Ouerpaar van Stilbaai het dié bulletjie van 'n eersteling ryker geword. Bridgette Schutte en Mauritz George van Palinggat se seuntjie Patrick is Vrydag, 19 Junie gebore.
Ouma Louise Schutte vertel hulle het gedurende die swangerskap geweet dis 'n seuntjie en hy gaan nogal groot wees: "Bridgette het baie groot gedra en dit was soms maar moeilik. Ons het vermoed hy sal so 4kg weeg."
Dis eers toe sy by Riversdal-hospitaal aanmeld vir induksie, wat sy werklike gewig bepaal kon word. Hulle is toe na George-hospitaal verwys, waar die baba met behulp van 'n keisersnee gebore is.
Pa Mauritz was in terme van die inperkingsregulasies nie in die hospitaal toegelaat nie en moes maar gedweë in die motor sy naels sit en kou.
Ma en seun moes 'n paar dae in die hospitaal deurbring om seker te maak die baba se suikervlakke, wat aanvanklik bietjie hoog was, keer terug na normaal.
Nadia Ferreira (Wes-Kaap gesondheidsdepartement woordvoerder) het bevestig dat dit beslis nie aldag is dat 'n pasgebore baba soveel weeg nie, hoewel dit nie heeltemal ongewoon is nie.
Klein Patrick George
Mauritz George en Bridgette Schutte.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'