ALBERTINIA NUUS - Al ooit gehoor van die old lady's darling oftewel handyman op Albertinia? Hymie Smith wat 'n allemintige 79 jaar oud is, is die man wat alles kan doen.
Vir Hymie is dit glad nie vreemd om nog op sy ouderdom op die dak te klim nie. Hy het onlangs sy huis se dak geverf met 'n patent wat hy self gemaak het om die taak sonder moeite te verrig. Tot bekommernis van sy vrou, Duffy.
"My senuwees was gedaan toe hy op die dak werk. As ek 'n geluid buite hoor, hardloop ek uit om te vra of alles nog reg is, maar dan was dit net iets wat geval het of die leer wat hy skuif," vertel sy.
Die paartjie het 25 Mei 1962 ontmoet, vir agt jaar gereis en die wêreld verken voordat hulle in 1970 getroud is. Daarna het hulle twee dogters, Yolandi en Zuléka, gehad.
Deur die jare het hy nog altyd sy vrou ondersteun in alles wat sy doen. Hy help buite en in die huis - enige vrou se droomman en 'n gentleman daarby. Hy maak nog die deur oop en die stoel word vir haar uitgetrek na 52 jaar se getroude lewe.
Vroeër jare het Heini by die spoorweë gewerk as metaalwerker. Daar het hy baie geleer van metaal in plekke soos Nuweland, Goodwood en Paarl, om net 'n paar te noem. Smith was ook in verskeie dele van Pretoria waar hy by Victor Verster Korrektiewe Dienste werksaam was in die werkswinkel, waar hy bandiete geleer het om met hulle hande te werk.
Na 30 jaar by Korrektiewe Dienste tree hy in 1996 af op Albertinia, 'n dorpie waarop die egpaar verlief geraak het.
"Dit was egter nie maklik nie, ons het maar rondgesoek hier in dié dorp, eers 'n stukkie grond gekoop en later die huis. Ek het die huis reggemaak, oopgebreek, nuwe kaste en vensters ingesit, alles op my tyd tussen kuiers by die kinders en kleinkinders deur, soos wat ons dit wou hê," vertel Hymie.
Hy is welbekend in die dorp, veral onder die dames wat altyd 'n werkie het vir hom, die nie-amptelike handyman. "Toe ons hier intrek, het almal gedink hy is 'n bouer aangesien hy self gebreek en gebou het. Daarna het hy sy dogter se voertuig oorgespuit en almal het gedink hy is 'n spuitverwer. Sy hande staan vir niks verkeerd nie: kaste, kopstukke, meubels, selfs gemors kan hy regmaak,"sê Duffy trots.
Agter: Kleinkinders Heini, Karli, Zuléka, hul dogter en Duffy Smith. Voor: Hymie Smith
Die groot vraag is natuurlik wat hou hom nog so jonk. Sy antwoord was eenvoudig: "Die geheim van aftree is om nie by die huis te sit en wag tot jy doodgaan nie. Bly aan die gang. Ek het altyd iets wat my besig hou, ek het genoeg karre waaraan ek kan werk, een kind het vir my 'n fiets gegee wat ek so af en toe ry of ek loop en doen my dinge wat ek moet doen."
Vir Duffy is die ervaring heeltemal anders. "Wanneer ons inkopies doen moet ek vra dat hy so bietjie stadiger loop want hy hardloop en ek sukkel om by te hou. Dit voel partykeer asof ek Ritalin nodig het om by te hou," spot sy.
Heini se 80ste verjaarsdag gaan 'n groot makietie wees in September 2023. "Ons sien uit daarna om dit saam met ons kinders en drie kleinkinders, Heini, Karli en Nicholas te vier."
Hymie Smith wat op 79 sy huis se dak verf.
Hymie en Duffy se drie kleinkinders, Heini Smit, Karli Smit en Nicholas Mundy.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'