Update Video
STILBAAI NUUS - Dis beslis nie stil op Stilbaai wanneer die plaaslike mannekoor optree nie.
Hul konserte wat op 25 Oktober en 1 November in 'n volgepakte NG kerksaal aan die oostekant van die dorp gehou is, het telkens groot toejuiging van die gehoor uitgelok.
Die repertoire wat koorleidster Naomi van Schalkwyk gekies het, het van bekende Afrikaanse liedjies tot Engelse gunstelinge soos Love story en Moon River gewissel. Hul interpretasie van die tradisionele Russiese lied 12 Robbers was ongetwyfeld 'n hoogtepunt.
Agter een van hul ou Afrikaanse liedere, Liefdeswee, lê 'n interessante storie. Volgens Van Schalkwyk het 'n jong vlieënier, M du Plessis, ongeveer 80 jaar gelede op die vooraand van sy vertrek na die oorlog die bladmusiek aan die sopraan Cecilia Wessels gegee. Die komponis het die lied spesiaal vir haar geskryf. Du Plessis het nie die oorlog oorleef nie en Wessels het geweier om die bladmusiek aan ander sangers beskikbaar te stel. Na haar dood het dit in die hande van Anna Bender, amptelike begeleier by die destydse SAUK, beland en is in 'n bundel opgeneem wat in Van Schalkwyk se besit is. Plaaslike sopraan Hanlie Lubbe het vir 'n uitmuntende uitvoering van die lied as gaskunstenaar by die manne aangesluit.
Kyk 'n video hieronder:
Die storie het egter nóg 'n stertjie. Stilbaaier Ann Hiemstra vertel sy het tydens die konsert van 25 Oktober onwetend langs die komponis se susterskind, Nanine Behrens van Kleinmond gesit.
Toe die lied aangekondig word, het Behrens verbaas aan Hiemstra gesê sy het nooit verwag om dié lied in 'n konsert teë te kom nie, want die familie het nie gedink iemand weet nog van die musiek nie.
Benewens die ernstige musiekmakery was daar ook ligter items.
Lubbe en sopraan Nina du Toit het die vermaaklike Duet for two cats van Rossini uitgevoer. Die koor het ook na pouse tydelik in die Grafsteensangers verander en vir heelwat komiese oomblikke gesorg.
Alle geld wat met die twee konserte ingesamel is, is tussen Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum, Huis Stilbaai en Laerskool Bertie Barnard se Hartliefklas verdeel.
Die gehoor geniet die mannekoor se sang. Foto: Deona Aucamp
Die Grafsteensangers het vir groot pret gesorg. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai-dorings maak musiek
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessqua nuus'