HESSEQUA NUUS - Die digter C Louis Leipoldt beskryf Oktober as “die mooiste, mooiste maand...” En dalk, net-net, is die heerlike lente ná ‘n lang, koue winter, nou tóg hier!
Die weer was vanjaar behoorlik deurmekaar en inderdaad wispelturig, hoofsaaklik veroorsaak deur wêreldwye klimaatverandering.
Vroeër vandeesweek is weerwaarskuwings vir oorspoelings en wind uitgereik en nou dreig daar gunstige omstandighede vir wegholveldbrande.
Inteendeel, die Suid-Afrikaanse Weerburo voorspel uit Bloemfontein bogemiddelde hoë temperature en versengende hittegolftoestande vir die somermaande.
Dié naweek kan die Hessequa-streek sonnige samesyn geniet - met temperature wat die kwik tot 35 grade kan laat kook.
Dit is veral goeie nuus vir Riversdallers en Stilbaaiers.
In Riversdal kan dorpenaars Saterdag weer langs die trein by die Makadasmark op die plein snuffel en kuier.
By die gewilde kuierplek 3 Ankers in Bessiestraat, Stilbaai, van elfuur die oggend, word daar ‘n ankerfees met gees ten bate van Stilbaai se kindersentrum gehou. Daar is springkastele, boeresport, ‘n bierfees en ‘n spanbraaikompetisie - met heeldag musiek, en ‘n dans en ete die aand.
Tussendeur gaan daar op die strande en by swembaddens gebaai, baljaar en gebraai word.
Dit is hittig. Wees veilig met dié wenke:
- Moenie swem waar geen swemborde opgerig is nie.
- Swem op strande waar menseredders aan diens is.
- Luister na die menseredders.
- Swem in die veilig gemerkte area (tussen die rooi en geel vlae).
- Hou ? oog op jong kinders. Die menseredders is daar om almal veilig te hou, maar hulle kan nie alles en almal gelyktydig dophou nie.
- Kyk na jou gesondheid; drink baie water en gebruik sonroom.
- Ken jou swemvermoë en moet dit nie probeer oorskry net omdat jou vriende dalk sterker en verder as jy kan swem nie.
- Moet nie onder die invloed van alkohol swem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’