HEIDELBERG NUUS -’n Gees van trots en nostalgie het Vrydagmiddag by De Waalville Primêr geheers toe Hoërskool DF Malan se skoolkoor uit Kaapstad, onder leiding van hul dirigent Jade Paige, die skool besoek het.
Paige, ’n trotse boorling van Heidelberg en het sy koor na sy heel eerste primêre skool geneem as deel van ’n persoonlike eerbetoon.
Die besoek was egter veel meer as net ’n kort inloer.
Dit het in ’n ware musiekfees ontaard toe verskeie plaaslike kore saam met die DF Malan-koor die verhoog betree het.
De Waalville Primêr se junior- en seniorkore het hul talent ten toon gestel, waarna die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor en die St. Barnabas Anglikaanse Kerkkoor ook opgetree het.
Die gehoor is op ’n musikale reis geneem - van tradisionele klanke tot moderne koormusiek - en het elke optrede met entoesiasme ontvang.
Staande ovasies het die gebou gevul en die kunstenaars se harte warm gemaak.
“Om weer hier terug te wees, waar my musiekpad begin het, was vir my ’n besondere oomblik,” het Paige gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’