HESSEQUA NUUS - Die Cuppa for Cansa-seisoen het vroeër vanjaar geopen met die bekendstelling van 'n splinternuwe en gesonder opsie vir funksies.
Die geld wat in 2017 ingesamel word sal aangewend word vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Sorgsentrums en spesifiek vir die versorging en ondersteuning wat Kansa aan almal wat deur kanker geraak word bied.
In die haastige lewe van vandag, is naweek- en na-ure tyd beperk en dink 'n mens aan groot geleenthede, besef jy dadelik dat jou besige skedule nie werklik daarvoor tyd maak nie.
Kansa bied vanjaar 'n vinniger Cuppa for Cansa opsie. Veral korporatiewe organisasies en besighede wat by druk skedules moet hou, het vanjaar die opsie om Cuppa-bekers teen R55 elk te koop.
Hierdie bekers is 'n waardevolle herinnering wat jou altyd aan die Cuppa-seisoen sal laat dink, maar meer nog, daardie spesiale oomblik skep waar een, drie of meer kollegas saam 'n koppie tee, koffie of sap kan geniet, want waar daar 'n Cuppa is, is daar hoop!
Cuppa for Cansa is 'n prettige manier om broodnodige fondse in te samel wat Kansa in staat stel om in plaaslike gemeenskappe diens te doen.
Die konsep van Cuppa kan aangepas word vir eindelose en vindingryke geleenthede en dit bied aan die gasvrou totale kunssinnige vryheid.
'n Funksie kan klein of groot wees, dit kan aangebied word vir familie, vriende of kollegas en dit kan by enige plek aangebied word.
Kansa moedig vanjaar gasvroue aan om 'n 'gesonder opsie' te oorweeg. "Tydens die funksie kan gesonde kos en drinkgoed aangemoedig word en resepte vir gesonde kos uitgeruil word," sê Kansa se hoof van Volhoubaarheid, Maria Scholtz.
Enigiemand kan 'n gasheer of gasvrou word. Vir meer inligting of die aflewering en bestelling van bekers in jou area, of om 'n gasvrou te wees, skakel Lucinda Viljoen by 082 66 33 529 of e-pos lucinda@cansa.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'