STILBAAI NUUS - "Die begeerte om 'n misdaad te pleeg sonder die geleentheid daarvoor, loop op niks uit nie."
Aan die woord is Coen Marais, 'n afgetrede dosent in polisiekunde.
Hy het Vrydagaand 25 Oktober tydens 'n werwingsvergadering vir die buurtwag op die kusdorp opgetree.
Nadat past. (emer.) Jan Kleynhans die vergadering geopen het, het Pieter Lategan, hoofkoördineerder van die buurtwagte van Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein die aanwesiges verwelkom. Marais het met 'n bondige oorsig oor die doel en plek van buurtwaglede gevolg.
Hy het benadruk dat buurtwagte slegs daar is om die polisie by te staan. "Die polisie handhaaf wet en orde en die howe straf, maar dis grootliks van 'n vennootskap met die gemeenskap afhanklik. Buurtwagpatrollies is van onskatbare waarde om met aandag op te let, tussen die lyne te luister en akkurate inligting oor te dra," aldus Marais.
Enigiemand wat belangstel om aan te sluit moet sy/haar woonbuurt se koördineerder kontak.
Name en telefoonnommers kan by Lategan by 082 808 6559 gekry word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'