STILBAAI NUUS - Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, en sy burgemeesterskomitee het Donderdag 21 Julie hul tyd opgeoffer om in die Stilbaai-gemeenskapsaal beskikbaar te wees vir individuele onderhoude met die inwoners van Stilbaai.
Hulle is bygestaan deur amptenare van die verskillende departemente en inwoners het die geleentheid gehad om op 'n een-tot-een basis met die komiteelede en amptenare te gesels oor munisipale sake wat hulle raak.
Volgens Riddles het hulle al in Januarie met dié uitreikaksies begin en besoek hulle al die dorpe in Hessequa om eerstehands te hoor watter probleme daar in die gemeenskappe is en, waar moontlik, word daar onmiddellik aandag aan gegee.
Volgens hom is hierdie uitreikaksies baie suksesvol en heelwat probleme word dan ook op hierdie manier opgelos.
Die feit dat inwoners op 'n een-tot-een basis kan gesels met die amptenare van die betrokke departement en ook die verantwoordelike burgemeesterskomiteelid maak dat probleme heelwat vinniger aandag kry.
Belastingbetalers hoef ook nie te sit en luister na àl die ander probleme soos die geval is met 'n gewone vergadering nie.
Die kenmerk van 'n suksesvolle munisipaliteit is die feit dat hulle besef dat daar probleme is wat moet aandag kry en met hierdie uitreikaksies wys Hessequa-munisipaliteit dat hulle ernstig is oor goeie en doeltreffende dienslewering.
Dis voorwaar 'n goeie voorbeeld vir die talle munisipaliteite in Suid-Afrika wat hulle inwoners versaak met swak of selfs geen dienslewering nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'