RIVERSDAL NUUS – Tydens ’n gestruktureerde misdaadvoorkomingsoperasie op Donderdag 8 Mei het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onder leiding van sers. JM Spangenberg van die Langeberg K9-eenheid, saam met sers. Garnet Damans van Riversdal-polisie en buurtwaglid, Lee-John Valtyn, in Riversdal se middedorp en omliggende gebiede opgetree.
Die operasie het gelei tot die arrestasie van een persoon in besit van ’n gevaarlike wapen, terwyl 26 ander individue administratief beboet is vir verskeie minder ernstige oortredings, insluitend die rook van sigarette in openbare ruimtes.
Tydens die optrede het kritieke inligting na vore gekom wat aandui dat verskeie individue van buitelandse herkoms sonder wettige immigrasiedokumentasie in die gebied woon en werk.
Hierdie bevinding is kommerwekkend en dui op moontlike oortredings van die Wet op
Immigrasie 13 van 2002, waaronder onder meer:
Verblyf in Suid-Afrika sonder ’n geldige visum of permit;
Werksaamhede verrig sonder die nodige arbeidstoestemming;
Werkgewers wat ongedokumenteerde persone aanstel of akkommodeer, wat self strafregtelik aanspreeklik gehou kan word.
SAPD stel proaktiewe misdaadvoorkoming voor
SAPD waarsku die publiek dat onwetendheid van die wet geen verweer is nie. Werkgewers, huurders en lede van die gemeenskap word versoek om hulself deeglik te vergewis van die toepaslike wetgewing en die nodige stappe te neem om binne die regsraamwerk op te tree.
Versuim om dit te doen kan ernstige regsgevolge vir individue en instansies inhou.
“Ons is ernstig daaroor om ’n veilige omgewing vir al ons inwoners te skep en handhaaf,” sê Spangenberg.
“Hoewel ons erken dat daar groot sosiale uitdagings is, is dit belangrik dat die publiek hul verantwoordelikheid verstaan. SAPD se rol is nie slegs om reaktief op misdaad te reageer nie, maar om proaktief te werk om potensiële oortredings te voorkom en die publiek in te lig.”
Die SAPD moedig die publiek aan om proaktief saam te werk met die owerhede. Indien daar onsekerheid bestaan oor die regstatus van werknemers of huurders, word dit sterk aanbeveel om SAPD of die departement van binnelandse sake te kontak vir bystand.
Deur samewerking en bewustheid kan misdaad en wetsoortredings doeltreffend aangespreek word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’