RIVERSDAL NUUS - Hessequa het Woensdag, 23 April, nog 'n bietjie veiliger geword toe die brandweerdienste in Riversdal nog een brandweervoertuig ryker geword het tydens 'n oorhandiging by die Thusong-sentrum.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het tydens die geleentheid gesê dat die Hessequa-brandweerdienste sedert 2016 met 260% gegroei het.
In 2016 was daar net een voertuig beskikbaar om brande te bestry.
Ná Woensdag spog hulle met 21 brandweerbeamptes op kontrakbasis, sewe permanente beamptes, 14 voertuie en 40 WoF-lede.
Direkteur van gemeenskaps-dienste, Deon Lewis-Michaels, het gesê dat hierdie voertuig die brandweer se vermoë sal verbeter om vinniger op noodoproepe van die gemeenskap te reageer en die verbintenis met openbare veiligheid sal verhoog.
Die hoof van brandweerdienste in die Wes-Kaap, Etienne du Toit, het beaam dat die brandweerdienste sedert 2016 merkwaardig gegroei het en daarop gewys dat die voertuie almal nog in uitstekende toestand is.
'n Teken dat die beamptes trots neem in hulle werk deur die gemeenskap te dien.
Die gaste is daarna vermaak met 'n parade.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’