HEIDELBERG NUUS - Die personeel van Grootvadersbosch Natuurreservaat het vir die vierde agtereenvolgende jaar weer hul harte en beursies vir behoeftige leerders oopgemaak.
Dié Samaritane, almal permanente en tydelike werkers onder leiding van die bestuurder, Ian Allen en sy vrou, Rose, het dié keer na 36 behoeftige leerders van De Waalville Primêr uitgereik wat die winter nou met skoene kan aandurf.
Hulle het besluit om vanjaar meer leerders as in 2015 (15), 2017 (20) en 2018 (32) te betrek.
Rose het in haar toespraak gesê dat amper niks in die lewe gewaarborg is nie, maar "God se getrouheid is altyd gewaarborg". Volgens haar het heelwat personeel weggegaan, maar dat elke leerder steeds 'n paar skoene, kouse, 'n hemp, skoenpolitoer, 'n borsel en skryfbehoeftes ontvang. Sy het al die skenkers, asook 'n vriendin van haar, Yvonne Damonza van Kaapstad, vir hul bydrae tot die sukses van die projek bedank.
Op 'n ander noot het sy die leerders en van hul ouers wat teenwoordig was, daarop gewys om die omgewing te bewaar en so dikwels moontlik herwinning deel van hul alledaagse aktiwiteite te maak.
Op sy beurt het Ian ook sy kollegas vir hul omgee en skenkings aan hul medemens bedank. Hy het vir die leerders en ouers gesê dat dit belangrik is om te gee, maar dat hulle nie 'n bakhand-mentaliteit moet ontwikkel nie. Shalmay Meyers, onderwyser, het almal bedank en die kinders gemotiveer om na hul geskenke om te sien.
Rose (tweede van links) en Ian Allen (middel), asook Shalmay Meyers (onderwyser, tweede van regs), staan by leerders van De Waalville Primêr. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'