STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Bewaringstrust is stelselmatig besig om indringerplante soos rooipitjie en manatokbome aan die oosoewer van die Goukourivier uit te kap.
Saterdagoggend, 14 Junie, was dit nog bitter koud toe die groepie vrywilligers onder leiding van dr. Deon Begemann bymekaar- gekom het.
Hulle was gewapen met kragsae, grafies en groot snoeiskêre om die takie aan te pak.
Vir twee ure het hulle gewoel en gewerskaf, maar daar is nog heelwat werk voordat hulle na 'n ander gebied kan skuif.
Die bome word sover moontlik net bokant die grond afgesaag en die stam word dan met 'n blou groei-inhibeerder geverf sodat dit nie weer uitskiet nie.
Die dun nuwe boompies word sommer heel uitgehaal en stadig maar seker is hulle besig om die stryd te wen.
Skakel gerus vir Begemann by 082 440 7910 indien jy kans sien om hulle te help en sodoende die waardevolle fynbos te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’