RIVERSDAL NUUS - Vakansiegangers en besoekers wat vanoggend deur Riversdal gery het op pad na hul vakansiebestemmings, het 'n redelike warm ontvang gekry al het dit liggies gereën.
Alle inkomende voertuie is omstreeks 10:00 by 'n padblokkade afgetrek en na 'n stilhouplek vir motors en swaar vragmotors verwys waar 'n horde verkeersbeamptes hulle ingewag het.
Maar die bekommderde gesigte van die besoekers het gou in breë glimlagte verander toe die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles, en van sy senior uitvoerende raadslede en ander senior munisipale amptenare geskenkpakkies met, onder andere, eet- en drinkgoed, aan die verbaasde bestuurders uitgedeel het.
Menige het waarskynlik gedink hier kom sowaar 'n boete aan die vooraand van die vakansie. Die "welkom in Hesssequa" was soos musiek in baie se ore.
Group Editors se gewilde en omvattende vakansiegids is ook aan besoekers uitgedeel waarin die volledige vakansieprogramme van elke dorp in Hessequa en die Tuinroete uiteengesit is.
Met 'n vrolike afskeidsboodskap van "geniet Hessequa en die Tuinroete, bestuur versigtig op die nat pad en kom veilig by jul eindbestemmings aan," het besoekers met breê glimlagte daar weggery.
Só moet besoekers aan Hessequa mos welkom geheet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’