ALBERTINIA NUUS - Vir 'n paar inwoners in Albertinia is die toestand van die Brakrivier wat tussen Brak- en Oosthuizenstraat loop 'n groot kopseer.
Veral vir een inwoner, Abraham Londt, gee die besoedeling erg aanstoot. Abraham stap elke dag met sy geliefde hond in Albertinia. Vir hom is dit opmerklik hoe die Brakrivier vervuil is van die vullis.
Die Brakrivier is laas in Desember 2022 skoongemaak. Sedertdien is daar nog niks gedoen om die vullis te verwyder nie.
Die reën wat vanaf Mei mildelik in die Hessequa-streek geval het, die probleem vererger en kan dit net as 'n groot gemors beskryf word.
Die stormwaterpype verbind daar met mekaar wat beteken dat die dorp se gemors al die pad tot in die rivier loop. Wat dié probleem vererger is die klomp straatkwaaddoeners wat saans as dit donker is of soggens vroeg hul vullissakke daar kom stort.
Die deel van die dorp is besig om in 'n stortingsterrein te ontwikkel.
Die plastiek wat in die rivier gegooi word, veroorsaak boonop verdere verstoppings.
Abraham sê hy het reeds in 2021 met die munisipaliteit gesels rakende hierdie probleem, maar dit val op dowe ore of daar word allerhande verskonings aangebied. Maar die probleem gaan nie weg nie.
Abraham het selfs aan die munisipaliteit 'n tipe "dreinsokkie" voorgestel, maar hy is meegedeel dat dit te veel gaan kos óf dat dit beskadig of gesteel gaan word.
Wat hom egter pla, sê Abraham, is dat daar sedert Desember tot op hede nog niks gedoen is om die gemors op te ruim nie. "En waarom nie? Wat is die oponthoud of wat verhoed die munisipaliteit om die Brakrivier ten minste een keer per maand skoon te maak?"
In Albertinia word daar talle vrae oor die Brakrivier gevra. Die stormwater vloei tot in die rivier en vandaar af in riviere wat uitloop in die see. En op dié manier word die hele gebied en die see besoedel, want alles word soontoe afgespoel.
Abraham reken dis voor die hand liggend wat gedoen moet word om die probleem op te los. "As dit dan 'n duur oefening is, hoekom word daar nie behoorlik begroot daarvoor om die gemors op te ruim nie."
Die plastiek wat in die rivier gegooi word, veroorsaak boonop verdere verstoppings.
Abraham meen inwoners het ook 'n aandeel in die gemors wat oral op straat sigbaar is, maar sê dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die nodige instandhouding te doen en die dorp netjies en skoon te hou.
"Die besoedelingsprobleem moet aangespreek word en dringende optrede is nodig. 'n Mens wil mos trots wees op jou dorp en ons as belastingbetalers kan sekerlik verwag dat dit netjies gehou word.
"Watse indruk skep 'n vuil dorp op besoekers wat hier deurry en selfs hier wil oornag. 'n Skoon dorp sal nie net die inwoners se harte verbly nie, maar help om toeriste aan te moedig om ons pragtige dorp te besoek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’