STILBAAI NUUS - Dit was 'n see van kleur toe Bertie Barnard hulle jaarlikse kleurkaskenades deur die strate van Stilbaai gehou het.
Die fyn motreën het gladnie die entoesiasme gedemp nie en het eerder meer pret verskaf.
Die hardlopers het by die rugbyveld weggespring nadat Mariska van Wyk, die organiseerder, eers seker gemaak het dat hulle behoorlik bestook is met die veelkleurige poeier en het 'n roete gevolg deur die hawe, langs die Goukourivier af en weer terug rugbyveld toe in 'n sirkelroete.
Langs die pad het 'n paar besighede, elkeen met sy eie kleur, poeierstasies gehad en hier is die deelnemers behoorlik bestook met poeier.
Wat weggespring het by die rugbyveld en wat weer daar geëindig het was twee totaal verskillende prentjies, maar daar was nie een suur gesig nie en almal het hulle gate uit geniet.
Mariska en haar mede-onderwysers het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt en was ware ambassadeurs vir Laerskool Bertie Barnard.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’