STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-belangeforum het 140 inheemse bome geborg in 'n aksie om die dorp as die skoonste en groenste dorp te vestig.
Sedert 2016 het die belangeforum reeds meer as 3 150 bome geskenk en is die bome in publieke areas in Melkhoutfontein, Stilbaai en Jongensfontein geplant.
Hessequa-munisipaliteit is behulpsaam om die vervoer van die bome te organiseer wat by waterwese en bosbou se staatskwekery in Wolseley aangekoop is, sowel as die wateraanleginfrastruktuur asook die versorging van die bome.
Gemeenskapsleiers neem voortou deur ekologiese entrepreneurskapprojekte in Stilbaai te bewerkstellig.
Deur betrokke te raak by projekte wat die verwydering van uitheemse bome bevorder en werkskepping aanmoedig, speel elke gemeenskap 'n rol in die skep van 'n groen omgewing vir komende generasies.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder, noem dat Hessequa bevoorreg is om gemeenskapsorganisasies te hê wat belangstel om die omgewing te verbeter en deel te vorm van die munisipaliteit se 100 000 Bome-projek. Die veldtog is 'n omgewingsvriendelike inisiatief en moedig gemeenskapsbetrokkenheid aan.
Die doel van die veldtog is om die herstel van ekosisteme te fasiliteer wat die gesondheid en lewensbestaan van sy gemeenskappe sal verbeter.
Sedert 2015 is daar reeds 10 435 bome in die Hessequa-streek aangeplant en geregistreer.
Besoek www.100000trees.co.za vir meer inligting oor hoe jy by hierdie veldtog betrokke kan raak.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'