HESSEQUA NUUS - Almal is dit eens dat die gebruik van selfone die aandag van motorbestuurders aftrek, maar 'n oplossing vir die kwessie is nie so eenvoudig nie.
In 'n meningsopname deur Suid-Kaap Forum het dit duidelik geblyk dat mense sterk oor die saak voel.
Op die vraag of hulle bestuurders wat op 'n selfoon praat of tik sal aanspreek, het die antwoorde gewissel van: "Ek het dit al gedoen" tot "Ek sal nie want ek wil nie sleggesê word nie."
Jaco Steenberg en Diana Petersen reken volgens hul Facebookplasing hulle sal maar liewer saggies skel. FJ Brewis vat 'n algemene vrees vas met sy opmerking: "Die kans in Suid-Afrika om doodgeskiet te word is 99%."
Die feite
- Volgens klousule 308A van die nasionale padverkeerswet (wet nr. 93 van 1996) mag selfone sonder 'n handvrye toestel nie gebruik word terwyl die selfoongebruiker bestuur nie. Dieselfde geld wanneer die motor by 'n verkeerslig stil staan. Solank as wat die enjin aangeskakel is, word die motor geag bestuur te word;
- Geen amptelike persone is van die bepaling vrygestel nie;
- Volgens 'n regulasie wat in 2012 bygevoeg is kan 'n foon vir 24 uur gekonfiskeer word indien 'n motorbestuurder in die Wes-Kaap dié bepaling oortree. Die eienaar van die foon sal 'n boete moet betaal voor die toestel teruggegee sal word;
- Indien 'n ongeluk as gevolg van die onregmatige gebruik van 'n selfoon veroorsaak word kan dit die uitbetaling van versekeringseise beïnvloed.
Volgens 'n verslag deur die internasionale transportforum is een van die hoofoorsake van ongelukke dat bestuurders se aandag afgetrek word. In Suid-Afrika maak selfoongebruik ongeveer 25% van die faktore wat aandag aflei uit.
Liam Clarke, handelsbestuurder van die Bakwena N1N4-tolpadkonsessie, verduidelik die dinamiek wat plaasvind so: "Dit neem ongeveer vier sekondes om 'n teksboodskap te lees en nog vyf om te antwoord. Dit beteken jou oë is vir nege sekondes weg van die pad. Dis 'n lang tyd wanneer jy bestuur."
Data wat die Discovery Insure Driver Challenge-toepassing bymekaar gemaak het, het na die tyd wat dit neem vandat 'n foon lui tot 'n gemiddelde oproep klaar is, gekyk: "It was found that a single instance of mobile phone usage represents an average of 52 seconds of distracted driving. At 60 km/h, this is equivalent to driving 'blind' for one kilometre and that makes the driver four times more likely to have a crash."
Is enige oproep of teksboodskap so 'n risiko werd?
Driving while using a cell phone puts drivers and passengers at a major risk of an accident. It is an offence punishable by law. In the Western Cape a bylaw allows officials to confiscate the trespasser's phone for 24 hours and a fine is payable before the phone will be released.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'