RIVERSDAL NUUS - Met die winter wat voorlê, sal die ry met jong kinders en bejaardes, wat kom toustaan vir iets warms om te eet by Becca's Soup Kitchen (Becca's-sopkombuis) in Kwanokuthula weekliks groei.
Rebecca Johnson, wat die sopkombuis uit haar huis bedryf, het aan Suid-Kaap Forum gesê sy is raadop. "Meneer, ek het niks om vir dié mense te gee nie. Ek het skaars genoeg vir my eie gesin.
"Woensdagoggend het 'n bejaarde vroutjie, wat elke oggend om sesuur opstaan om werk te gaan soek sodat sy iets vir haar gesin op die tafel kan sit, by my om hulp aangeklop. Foeitog, sy is brandmaer en die klein seuntjie by haar het sy leë bakkie saamgebring en na my uitgehou. Dit het my hart gebreek."
Die sopkombuis gee op Maandae, Woensdae en Vrydae sop, brood en soms bredies vir sowat 179 geregistreerde begunstigdes, wat bejaardes en jong kinders insluit.
Ná Suid-Kaap Forum verlede jaar 'n beroep op inwoners gedoen het om kos te skenk vir die sopkombuis wat geregistreer is, het Hessequa hul harte en hande oopgemaak.
Plaasboere, Spar en JC Slagtery en verskeie inwoners het pakke groente en 'n verskeidenheid sopmengsels kom aflewer by die koerantkantoor. Ook gevriesde vleis en sopbene, hoendernekkies - alles om 'n heilsame pot met sop voor te berei.
Dit was opvallend hoeveel pensionarisse een tot twee keer per maand 'n pakkie met brood en groente kom aflewer het - self mense wat dit nie breed het nie.
Skenkings kan afgelewer word by Suid-Kaap Forum se kantoor in Heidelbergweg 29 net langs die NG-kerk Wes-gemeente. Weeksdae enigiets van 08:00 af tot 18:00.
Die redakteur, Hugo Redelinghuys, of Sade Rossouw sal dit persoonlik ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’