STILBAAI NUUS - Die aftelling na Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum se gewilde basaar op Saterdag 4 Julie het begin, maar volgens bestuurder, Adéle Redelinghuys, gaan die geleentheid oor veel meer as wat op die dag self gebeur.
" Die basaar gaan oor die honderde oomblikke daarna wanneer 'n ouer persoon 'n maaltyd ontvang, vervoer kry, ondersteuning ontvang of eenvoudig weet daar is iemand wat omgee," sê sy.
Redelinghuys beklemtoon dat elke donasie, elke vrywilliger wat aanmeld en elke boer, besigheid of inwoner wat bydra, deel word van 'n groter verhaal van omgee en ondersteuning. Volgens haar word die ware sukses van 'n basaar nie gemeet aan hoeveel geld gemaak of produkte verkoop word nie, maar aan die bereidwilligheid van mense om hul harte en hande oop te maak vir ander.
Die basaar beloof vanjaar ook om iets vir almal te bied. Buiten die tradisonele aanbiedinge sal daar verskeie buite-uitstallers wees wat stalletjies huur. Motorentoesiaste kan uitsien na die veteraanmotoruitstalling, terwyl Riversdal Toyota hul nuutste voertuie ten toon sal stel.
Redelinghuys sê dit is vir haar belangrik om ook ander organisasies 'n platform te gee om hul werk aan die gemeenskap bekend te stel. Daarom sal Badisa se Kumba, Antimorsjors en Bertie Barnard se geliefde bokkie ook deel van die dag se verrigtinge wees.
"Dit gaan oor die gemeenskap - die hele Stilbaai," sê sy.
Die Jagersbosch-basaar vind op Saterdag 4 Julie van 08:00 tot 13:00 by die gemeenskapsaal plaas. Inwoners word genooi om die dag saam te geniet en terselfdertyd 'n waardevolle bydrae te lewer tot die voortgesette dienswerk van Jagersbosch in die gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’