STILBAAI NUUS - Badisa Stilbaai het Dinsdag 10 Oktober die amptelike opening van hul nuwe heenkome gehad.
Die NG Kerk van Stilbaai het besluit om 'n huis, wat kerkeiendom is, gratis aan Badisa beskikbaar te stel.
Tot op hede het hulle kantore gedeel met die kerk en dit was nogal beknop. Die gebou is reg langs die NG kerkkantoor in Melkboomstraat 14.
Dr. Marietjie Strydom, voorsitter van Badisa Stilbaai se beheerraad, het van die geleentheid gebruik gemaak om een en almal wat Badisa so getrou ondersteun te bedank. Sy sê dat in realiteit beleef hulle elke dag die Here se genade en goedheid.
Hy werk elke dag saam met die personeel, nie net by die kantore nie, maar ook by Baaija vir Biekie, Ouma Lena se Huis en Seesterretjie in Melkhoutfontein.
Sy sê verder dat almal weet hoe geweldig die staat hulle subsidies gesny het en dat as dit nie vir die onbaatsugtige hulp van kerkgenootskappe, besighede en die gemeenskap van Stilbaai was nie, sou Badisa al lankal sy deure moes sluit.
Strydom bedank die personeel en talle vrywilligers wat ure insit om 'n reusesukses van die talle projekte te maak. Sy noem veral Baaija vir Biekie, die Sakkie vir Pakkie by kerkgenootskappe, Ouma Lena se Huis en Seersterretjies.
Cornelia Giliomee luister aandagtig.
Baaija vir Biekie is Badisa se winkel in Stilbaai en die talle skenkings van klere en huishoudelike goed maak dit die lewensaar van Badisa Stilbaai.
Cornelia Giliomee, projekbestuurder van Badisa Stilbaai, sê dat hulle ook 'n winkel in Melkhoutfontein oopgemaak het en dat dit besig is om te groei.
Giliomee gee die versekering dat alle fondse netso teruggeploeg word in die plaaslike gemeenskap. Sy bedank die beheerraad vir hulle harde werk en toewyding.
Hulle ondersteuning maak dit baie makliker vir die personeel om hulle werk te doen en sy bedank ook die NG Kerk vir die pragtige fasiliteite wat hulle kosteloos beskikbaar stel.
Indien enigiemand belangstel om te help kan hulle gerus die kantore besoek by Melkboomstraat 14 of 028 754 2203 skakel. Jou kundigheid of bydraes kan help om 'n reuseverskil in die gemeenskap te maak!
Dr. Marietjie Strydom (links) in gesprek met van die ondersteuners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’