SLANGRIVIER NUUS - Arrows Rugbyklub het Saterdag op hul tuisveld gewys dat hulle met reg as dodelike pyle beskryf kan word, toe hulle Sibunye Kings van Plettenbergbaai met 19 - 7 geklop het in ’n SWDRU Eersteliga B Wes-wedstryd.
Arrows het reeds teen rustyd gemaklik met 14 - 0 voorgeloop en dit het gelyk of ’n groot sege op die kaarte was.
Verskeie onnodige foute en verkeerde opsies het egter keer dat die tuisspan die bonuspunt kon inpalm.
Tog kon Arrows drie keer gaan druk: Tyrone Lotz (heelagter), Charlton Lombaard (senter) en plaasvervangerstut Benico Pieters het elk ’n drie aangeteken, terwyl skrumskakel Adrian Michaels twee doelskoppe oorgeklits het.
Die besoekers het in die tweede helfte een keer oor die doellyn gekom, maar hul puntemakers se name was teen druktyd nie beskikbaar nie.
Daar is geen B-span wedstryd gespeel nie, aangesien die Sibunye Kings slegs met een span opgedaag het.
Arrows se B-span kry dus die volle vyf punte.
Arrows se volgende toets is Saterdag 30 Augustus wanneer hulle in Mosselbaai teen Titans Rugbyklub uitdraf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’