ALBERTINIA NUUS - Die Albertinia Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het Donderdag, 15 Januarie, saam met die gemeenskap 'n optog gehou om hul misnoë teen dwelmsmokkelaars en dwelmhuise in die area uit te spreek.
Mense raak verslaaf aan dwelms en jong kinders verkoop hul ouers se waardevolle items om geld vir dwelms te bekom.
Dit het 'n negatiewe invloed op kinders se leervermoë by die skool. Tienerswangerskappe neem ook toe omdat jong meisies geld nodig het om in hul behoeftes aan drank en dwelms te voorsien.
Hierdie situasie word uitgebuit deur jong mans wat meisies misbruik, en dit skep 'n bose kringloop van omstandighede.
Marilyn Fillies van die Rising Stars-jeugbeweging sê dat hulle met hierdie optog, saam met die GPF en die gemeenskap, net wil sê dat hulle genoeg gehad het van dwelmsmokkelaars: GENOEG is GENOEG!
Hulle wil ook hul dank uitspreek teenoor al die rolspelers wat die optog moontlik gemaak het: Albertinia GPF, Albertinia Buurtwag, Albertinia SAPD, Albertinia Brandweer, Hessequa Wetstoepassing, Openbare Orde-polisie en die gemeenskap.
Hierdie rolspelers het werklik die ondersteuning van elke lid van die gemeenskap nodig om hierdie euwel uit te roei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’