ALBERTINIA NUUS - Inwoners van Albertinia kan uitsien na 'n splinternuwe swembad wat teen die einde van Oktober voltooi behoort te wees.
Bouwerk aan die R19,9 miljoen-projek is reeds volstoom aan die gang en vorm deel van Hessequa-munisipaliteit se plan om sport- en ontspanningsgeriewe in die dorp uit te brei en te verbeter.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is die projek op 4 Mei aan Meyer Beton toegeken, waarna bouwerk aan die einde van Mei begin het.
Hessequa se onderburgemeester en wyksraadslid vir wyk 4, Gerald Boezak, sê die aangestelde kontrakteur maak goeie vordering met die konstruksiewerk op die terrein.
Volgens Boezak sal die nuwe swembad inwoners nie net 'n moderne ontspanningsgerief bied nie, maar ook 'n veilige ruimte waar kinders en volwassenes swemvaardighede kan aanleer en ontwikkel.
Die fasiliteit sal ook vir gemeenskapsaktiwiteite en sportontwikkeling aangewend kan word.
Hy het die Albertinia-gemeenskap bedank vir hul geduld en samewerking gedurende die boufase.
"Verdere opdaterings oor die vordering van die bouwerk sal met verloop van tyd bekendgemaak word," het Boezak gesê.
Hoewel die munisipaliteit nog nie 'n amptelike openingsdatum aangekondig het nie, word verwag dat die projek teen 30 Oktober voltooi sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’