Update
ALBERTINIA NUUS - Sharon-Lee Bester se moordenaar is vandag, Vrydag 14 September in die rondgaande hoërhof op Mosselbaai tot effektief 22 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 21-jarige plaaswerker, Johannes Bangiso het op 28 Oktober 2017 by Sharon se woning op die plaas Zout van die Aarde ingebreek. Sy het hom in die gang betrap waarna hy haar met die vuis geslaan en verwurg het.
Sharon was die vrou van Ian Bester wat aan ’n hartaanval beskwyk het en slegs ’n jaar daarna is sy vermoor.
Volgens die gemeenskap en ander werkers het sy met al die werkers goed oor die weg gekom.
Hy is ook skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en roof met verswarende omstandighede. Regter Nathan Erasmus het tydens vonnisoplegging gesê dit is baie gevaarlik om net na die koue feite van die saak te kyk sonder om die omstandighede in ag te neem.
“As ‘n mens na die koue feite kyk sien jy ‘n persoon het ingebreek, geroof en ‘n weerlose vrou vermoor. Wanneer ons egter na die omstandighede kyk gee dit ‘n totaal ander prentjie. Bangiso het op die plaas groot geword en het deurgaans met die hof oopkaarte gespeel."
Regter Erasmus het aan Bangiso gesê: “U was relatief jonk toe hierdie misdryf gepleeg is. Dit was die eerste keer wat u met die gereg bots. Niemand van ons word inherent boos gebore nie. U is ‘n jongmens en die fokus moet wees om te rehabiliteer.”
Hy het dit as verswarende omstandighede beskryf dat Bester Bangiso vertrou het. Bangiso is op die aanklag van huisbraak met die opset om te steel tot 1 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Op die aanklag van roof met verswarende omstandighede is hy tot 7 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Op die aanklag van moord het Regter Erasmus, Bangiso tot 22 jaar gevangenisstraf gevonnis. Aanklag een en twee moet samelopend uitgedien word, met die vonnis van aanklag drie, dus effektief 22 jaar.
Regter Erasmus het en slotte aan Bangiso gesê hy het ‘n kans om uit die gevangenis te wees voor hy middeljarig is. “Gaan maak die beste daarvan.”
Lees vorige artikels:
- Plaaswerkerk hoor Vrydag sy lot
- Plaaswerkerk skuldig aan moord
- Uitspraak in boervrou-moord
- Opspraakwekkende moordverhoor skop af
- Boervrou vermoor: Verdagte in hof
- Opvolg: Albertinia-Boervrou vermoor
- Albertinia: Boervrou vermoor
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'