Update
MOSSELBAAI NUUS - Die plaaswerker, Johannes Bangiso (21) wat Donderdag 6 September in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai skuldig bevind is op die moord van 'n boervrou van Albertinia, sal Vrydag 14 September gevonnis word.
Regter NC Erasmus het Bangiso skuldig bevind dat hy die 52-jarige Sharon Lee Bester op 27 Oktober 2017 op die plaas Zout van die Aarde verwurg het.
Bangiso het op die plaas grootgeword en het sekere erkennings aan die hof gemaak, maar het onskuldig gepleit. Hy het aangevoer dat hy Bester se voertuig wou vat om sy meisie te gaan haal, maar deur Bester in die gang verras is. Bangiso het haar 'n vuishou teen die kop toegedien en haar daarna gewurg. Erasmus het Bangiso ook skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en roof met verswarende omstandighede.
'n Forensiese pataloog het getuig dat die wurging van Sharon Lee Bester die ergste geval was wat sy nog in haar beroep gesien het. Dr. Christa Hattingh het aan die regter gesê Bester se nek was 'n bebloede massa.
Sy het vir die staat teen die beskuldigde getuig.
Seun getuig
Bester se seun, Wian het na Davids vir die staat getuig. Hy sê dit het hom langer as 'n jaar geneem om die gebeure te verwerk. Die verdediging het aan hom gesê dat die beskuldigde die familie om verskoning wil vra en berou het oor wat hy gedoen het.
Op 'n vraag of Wian dit sal aanvaar, het hy 'n ruk na Bangiso gestaar en gesê hy sal dit aanvaar wanneer dit persoonlik van Bangiso af kom, maar dat hy steeds nie verstaan hoekom Bangiso sy ma vermoor het nie.
Lees vorige artikels:
- Plaaswerkerk skuldig aan moord
- Uitspraak in boervrou-moord
- Opspraakwekkende moordverhoor skop af
- Boervrou vermoor: Verdagte in hof
- Opvolg: Albertinia-Boervrou vermoor
- Albertinia: Boervrou vermoor
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'