HEIDELBERG NUUS - Die Apostoliese Geloofsending Kerk (AGS-Oos) het Sondag 23 Augustus sowat 160 vroue en ’n paar mans met ’n spesiale Spogtee in die Duivenhoks-gemeenskapsaal bederf as deel van die Vrouemaandvieringe.
Die geleentheid is met gebed en Skriflesing deur Ronald Slawers en Magdalena Theodore geopen, waarna Pamela Michals die aanwesiges verwelkom het.
Christel Cloete, voormalige SAPD-bevelvoerder en motiveringspreker, was die gasspreker.
Sy het die vroue uit Rigters 4 en 5 bemoedig om ’n toegewyde lewe te lei en positief oor hul kinders te praat.
“Sê vir jouself, ek gaan opstaan soos ’n Deborah in my huis, kerk, straat en gemeenskap,” het Cloete gesê.
Sy het ook die mans bedank vir hul ondersteuning aan vroue.
Past. Martin Meyer het gesê die viering is egter oorskadu deur die skade wat vandalisme aan die kerkgebou, veral die groot versierde ruite, veroorsaak het.
Die skade beloop duisende rande.
Hy het sy hoop uitgespreek dat die skuldiges tot hul sinne sal kom.
Gelukstrekkings is tydens die geleentheid gehou, met verskeie vroue wat geskenkbewyse gewen het.
Meyer het almal vir hul ondersteuning bedank en die geleentheid met ’n boodskap van seën afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’