RIVERSDAL NUUS - Adv Thys Giliomee, wat sedert 1 Desember 2016 Mosselbaai se munisipale bestuurder was, en wie se kontrak op 30 November vanjaar sou verstryk, is as Hessequa se munisipale bestuurder aangestel.
Onder Giliomee se leierskap is Mosselbaai in 2019 en 2020 deur Ratings Africa aangewys as die beste plaaslike munisipaliteit in die land.
Ratings Africa is 'n gerekende graderingsagentskap wat verskeie operasionele, diens en finansiële standaarde ontleed, en talle Mosselbaaiers was spyt om iemand met Giliomee se kennis en ervaring te verloor.
Giliomee het vroeër vanjaar met Mosselbaai-munisipaliteit ooreengekom om sy diens reeds op 13 Julie te beëindig, na hy aanvanklik oor 'n aantyging van seksuele teistering geskors is. Mosselbaai se vorige uitvoerende burgemeester, Harry Levendal het verklaar dat die skikking die logiese en beste oplossing in die omstandighede was. Hy het die munisipaliteit se prestasie onder andere toegeskryf aan Giliomee se goeie bestuurstyl en gesê hy skram nie weg van dag-tot-dag diensleweringsuitdagings nie.
"Giliomee laat 'n stabiele administrasie agter met buitengewone hoë standaarde van munisipale dienslewering," het hy gesê.
Hessequa-munisipaliteit se Raad het op die Forum se navraag bevestig dat Giliomee met ingang 1 Januarie 2022 as munisipale bestuurder aangestel is "na alle wetlike prosedures gevolg is".
"CoGTA (National Dept of Cooperative Government and Traditional Affairs) het bevestig dat nie een van die kandidate op die kortlys op die register is wat mense uitsluit om aangestel te word weens enige wangedrag nie.
"Tans word die aanstellingsverslag en raadsbesluit deur die provinsiale departement van plaaslike regering nagegaan soos voorgeskryf deur wetgewing. Hessequa-munisipaliteit is teen en veroordeel alle vorme van seksuele teistering teen enige persoon," lui die verklaring.
In 'n telefoniese gesprek met Giliomee het hy gesê dat hy nog nie amptelike bevestiging gekry het van sy aanstelling nie en kan hy dus geen kommentaar in hierdie stadium lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'