Update
STILBAAI NUUS - Stilbaaier prof Jan du Preez mag so raak-raak aan sy 90ste verjaarsdag, maar hy is nog meer op en wakker as menige jong mens. Hy het soveel stories wanneer hy eers begin vertel dat hulle kort-kort dreig om met mekaar vervleg te raak.
Hy en sy vrou Esther (84) kyk nou op 'n lewe vol reise en interessante mense terug, wat hom op ver paaie sedert sy kinderjare op Piketberg geneem het.
Hy is op 6 Oktober 1930 gebore en het die eerste sewe jaar van sy lewe op Eendekuil naby Ceres deurgebring. Sy eerste skooljare was in die plaasskool, waarna hy verder op Piketberg skoolgegaan het. Sy pa Izak was hoof van die plaasskool op die berg.
Sy hoërskooljare het hy ook op Piketberg deurgebring, waar hy Hoërskool Piketberg se hoofseun in 1947 was.
Na skool het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en uiteindelik in 1956 'n doktorsgraad in anorganiese chemie behaal. Sy navorsing, veral op atoomkrag, het hom 'n gesogte spreker en dosent gemaak. Die gesin het tussen 1962 en 1964 in Chilton en Oxford in Engeland gewoon, waar hy by die grootste atoomnavorsings-fasiliteit wat in daardie stadium in Europa was, gewerk het.
Du Preez was egter ook 'n kranige sportman en het Springbokrugby in 1956 gespeel. Hy is tans die tweede oudste oorlewende Springbok rugbyspeler. Esther vertel met duidelike trots hoe vinnig hy as vleuel was. "In een wedstryd het 'n toeskouer gesê 'gee die bal vir die jet!'"
In 1957 is hy met Esther Klonus getroud en hul oudste seun, Izak, is op 24 Februarie 1959 gebore. Die egpaar se tweede seun Daniel is op 4 Mei 1964 in Engeland gebore. In 1976 het die gesin weer uitgebrei toe hulle twee sussies met die name Sandra en Marlene aangeneem het.
Die egpaar het in 2008 op Stilbaai afgetree. Deesdae hou Du Preez homself met die kweek van inheemse gladioli, speldekussings en proteas besig.
Vorige artikel: Bekende chemikus word 90
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'